ABULON HOLDINGS LIMITED

Abulon Holdings

 

HEERLIKE PERLEMOEN RESEPTE

PERLEMOEN OF KLIPKOS
Perlemoen wat ook "Abalone" genoem word, is 'n gewilde fynkos onder daardie Suid-Afrikaners wat werklik die kuns verstaan om dit goed voor te berei. Perlemoen is 'n groot weekdier wat in die koue waters van die Kaapse kus aan die rotse kleef. Wanneer die skulpe goed skoongemaak is, maak hulle aantreklike houers vir die perlemoengereg.

Om perlemoen skoon te maak

1. Maak perlemoenvleis met skerp voorwerp los van skulp 2. Haal vleis uit skulp en verwyder ingewande
3. Skrop perlemoen deeglik met 'n stywe borsel 4. Sny perlemoen in plat skywe; kap vleis goed sag

Gebruik 'n ou beitel of 'n sterk plankie wat soos 'n beitel gefatsoeneer is en steek dit onder die vleis in om dit van die skulp los te maak. Indien moontlik, moet die vleis dadelik nadat die perlemoen uitgehaal is, losgemaak word en op die rotse skoongeskuur word. As dit nie prakties is nie, laat perlemoen lê in 'n emmer koue water waarin 1 eetlepel koeksoda opgelos is. Verwyder ingewande en skrop vleis met 'n draad- of ander harde borsel af totdat dit wit en skoon is. Skenk spesiale aandag aan die fraiings omdat hulle altyd sanderig is. Sny vleis in dun skywe en kap dit goed om dit sag te maak.

Om perlemoen gaar te maak

1. Plaas gekapte skywe in kastrol sonder water of sout, sit deksel op en verhit op lae hitte. Die vleis sal self genoeg vloeistof vrylaat om dit gaar te maak. Laat 20-30 minute lank, of tot sag, prut. Gooi nou sout, baie botter, gerasperde neut en 'n bietjie wit wyn by en verdik sous met sagte witbroodkrummels. Bedien op rys.

2. Gooi ½ koppie water in drukpot, sit rakkie in en plaas perlemoenskywe bo-op. Maak onder druk gaar (15-20 minute). Geur en verdik sous soos beskryf.

3. Bevries heel perlemoen, sny in baie dun skywe, kap, rol in meelblom en eier en bak vinnig (net 1 minuut lank aan elke kant) in warm botter. Hoe langer die gaarmaakperiode, hoe taaier word die vleis. Moenie die delikate geur van die perlemoen met kruie of ander sterk geurmiddels verdoesel nie, tensy u graag 'n nuwe smakie wil uitprobeer.

4. Nog 'n manier om perlemoen gaar te maak, is om die vleis te maal en dan gaar te stowe, of om dit eers gaar te maak en dan te maal. Geur soos beskrywe of verwerk gemaalde perlemoen tot frikkadelle en bak in die pan.

Chinese soetsuur perlemoen
Perlemoen met soet-suursous en rys word in perlemoenskulp bedien. Agter is twee rou, skoongemaakte perlemoene.

Soetsuursous
1 eetlepel mielieblom
¾ koppie water
1½ eetlepels suiker
1 eetlepel stroop
½ koppie asyn
1 eetlepel sojasous
1 stukkie gemmerkonfyt (gekap)
1 groot of 2 klein perlemoene
2 eiers (effens geklits)
¾ koppie afgemaakte droë krummels
3-4 eetlepels sonneblomolie
16 waterkastaiings (klein)
1 klein geelwortel (dun repies gesny)
1 eetlepel komkommersnippers
1 eetlepel radyssnippers

Garnering
12 dun komkommerskyfies (met skil)
blaarslaai
gaar rys

Perlemoenskywe met eiersous
Braai dungesnyde gaar of bevrore, gekapte perlemoenskywe soos vir vorige resep en bedien met 'n gegeurde eiersous.

Sous
1 blikkie hoenderroomsop
½ koppie melk
1 eetlepel soetrissie (fyn gekap)
1 eetlepel pietersielie (fyn gekap)
1 eetlepel rooi olywe (fyn gekap)
1 hardgekookte eier (fyn gekap)
1 suurlemoen

Metode
Gooi onverdunde sop in bodeel van dubbelkastrol. Voeg melk by en roer op direkte hitte tot goed gemeng en baie warm. Roer soetrissie, pietersielie, olywe en gekapte eier by en plaas oor warm water om warm te bly. Bak perleomoenskywe in olie, soos vir vorige resep. Skep in skottels en skep sous oor. Garner met suurlemoenwiggies. Vir 4 of 5 persone.

Gestoofde perlemoen met groente

Bestandele
450 g (1 lb) fyngemaakte perlemoen
3 spekvleisrepies (klein stukkies gesny)
2 selderystele (dun skyfies gesny)
1 klein uitjie (fyn gekap)
3 middelslag-aartappels (geskil en blokkies gesny)
2 geelwortels (skywe gesny)
1 teelepel sout
¼ teelepel peper
knippie droë tiemie
5 eetlepels botter of margarien
5 eetlepels meelblom
4 koppies melk
rys

Metode
Laat gemaalde perlemoen 1 uur lank, of tot sag, in 2 koppies water prut. Dreineer. Berei groente: Bak spekvleis stadig in braaipan, voeg seldery en ui by en soteer tot deurskynend. Kook aartappels en wortel in 2 koppies water met sout, peper en tiemie tot amper sag, dreineer. Smelt bottet in groot kastrol, roer meelblom in en kook totdat dit borrel. Roer melk geleidelik by. Voeg perlemoen, spekvleismengsel en gaar groentes by. Verhit, maar moenie kook nie. Bedien by rys. Vir 6 persone.

Gestoofde Perlemoen/Steamed Abalone
Bedien 4/Serves 4

2 middelgrootte perlemoen, 7mm dik gesny, gestamp en gehalveer
25 ml olie
1 groot ui, dun gesny
250 ml droë witwyn
3 repies spekvleis, in 30 mm-stukkies gesny
12,5 ml gekapte pietersielie
sout, varsgemaalde swartpeper
'n bietjie neutmuskaat
1 lourierblaar
10 ml hoenderekstrak

Metode:
1. Verhit olie in braaipan
2. Voeg uie by en kook tot deurskynend
3. Voeg perlemoen by en braai liggies aan albei kante
4. Plaas in 'n oondskottel, voeg wyn, spekvleis, pieterselie, sout, peper, hoenderekstrak, neutmuskaat en lourierblaar by. Bak teen 175º C vir 1½ uur of totdat perlemoen sag is.
5. As die vleistof verdamp gedurende gaarmaak, kan meer water bygevoeg word om meer sous te maak.
6. Sprinkel met vars gekapte pietersielie en bedien met gekookte rys.